Rigters 21:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die volk is getel en daar was nie een mens uit Jabes in Gilead nie.

10. Toe stuur die gemeente twaalf duisend dapper soldate met die opdrag: “Gaan bring die inwoners van Jabes in Gilead om die lewe, ook die vrouens en die kinders.

11. Dit is wat julle moet doen: julle moet elke man en ook elke vrou wat al geslagsgemeenskap gehad het, doodmaak.”

12. Onder die inwoners van Jabes in Gilead is daar vier honderd meisies gevind wat nog maagde was en nie geslagsgemeenskap gehad en by 'n man geslaap het nie. Die soldate het hulle na die kamp toe in Silo in Kanaän gebring.

13. Toe stuur die hele gemeente 'n boodskap na die Benjaminiete toe by die Rimmonrots om met hulle vrede te maak.

14. Die Benjaminiete het dadelik teruggekom, en die vrouens uit Jabes in Gilead wat bly lewe het, is vir hulle gegee, maar daar was nie genoeg nie.

15. Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het 'n stuk uit die stamme van Israel uitgeskeur.

16. Toe vra die leiers van die gemeente: “Wat kan ons doen om vrouens te kry vir die ander Benjaminiete? Die vrouens uit Benjamin is almal om die lewe gebring.”

17. Hulle het verder gesê: “Daar moet erfgename kom vir dié uit Benjamin wat oorgebly het. Daar mag nie 'n stam uit Israel verdwyn nie.

18. Self mag ons hulle nie met ons dogters laat trou nie, want Israel het 'n eed afgelê en gesê: Vervloek is elkeen wat 'n vrou vir 'n Benjaminiet gee.”

19. Maar toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar 'n fees in Silo tot eer van die Here.”Silo lê noord van Bet-El en oos van die grootpad van Bet-El af Sigem toe en suid van Lebona.

Rigters 21