Rigters 19:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Sy skoonpa, die meisie se pa, het by hom daarop aangedring, en hy het drie dae daar oorgebly. Hulle het geëet en gedrink, en hy het daar oornag.

5. Die vierde dag het hy vroeg klaargemaak om te vertrek, maar die meisie se pa het vir sy skoonseun gesê: “Eet eers 'n stukkie vir die pad en dan kan jy vertrek.”

6. Hulle twee het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die meisie se pa sê toe vir die man: “Moenie teëpraat nie. Bly nog dié nag oor en geniet dit hier.”

7. Die man was op die punt om te vertrek, maar toe sy skoonpa daarop aandring, het hy omgedraai en daar oornag.

8. Die vyfde dag het hy vroegmôre klaargemaak om te vertrek, maar toe sê die meisie se pa: “Eet eers 'n stukkie vir die pad en wag tot agtermiddag.”Hulle het toe geëet.

9. Toe die man en sy byvrou en sy slaaf op die punt staan om te vertrek, sê sy skoonpa, die meisie se pa, vir hom: “Kyk, man, die son is aan die sak, dis amper aand. Oornag hier. Die dag is verby. Slaap hier en geniet dit. Julle kan môre vroeg alles regkry vir die reis en dan kan jy huis toe gaan.”

10. Maar die man wou nie die nag oorbly nie. Hy het klaargemaak en vertrek. Hy het regoor Jebus, dit is Jerusalem, gekom met sy span donkies en sy byvrou by hom.

11. Toe hulle by Jebus kom, was die dag verby, en sy slaaf sê vir hom: “Kom ons draai hier in by hierdie stad van die Jebusiete en dan vernag ons in die stad.”

12. Maar hy sê vir sy slaaf: “Ons kan nie by 'n vreemde stad indraai waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons druk deur tot by Gibea.”

13. Hy het verder vir sy slaaf gesê: “Kom ons probeer kom by een van óns plekke, dan oornag ons in Gibea of in Rama.”

14. Hulle het toe deurgedruk en toe hulle regoor Gibea in Benjamin kom, gaan die son vir hulle onder.

15. Hulle het daar ingedraai om in Gibea te gaan oornag. Hulle het by die stadsplein gekom en daar gaan sit. Niemand het hulle genooi om in sy huis te oornag nie.

Rigters 19