5. Simson en sy ouers is toe na Timna toe. By die wingerde van Timna het 'n jong leeu brullend op Simson afgestorm.
6. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit 'n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie.
7. Hy het toe met die Filistynse vrou gaan praat, en hy het van haar gehou.
8. Toe hy 'n ruk later terug is Timna toe om met haar te gaan trou, het hy afgedraai om na die geraamte van die leeu te gaan kyk. Daar was 'n swerm bye met heuning in die karkas.
9. Hy het heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook gegee, en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die karkas van 'n leeu gekry het nie.
10. Toe sy pa-hulle by die vrou aankom, het Simson daar 'n feesmaal gehou: dit was 'n gewoonte onder die jongmanne.
11. Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig vriende by hom laat bly.
12. Hy het vir hulle gesê: “Laat ek julle 'n raaisel vra. As julle my die raaisel se antwoord binne die sewe feesdae kan gee, sal ek vir julle dertig linnehemde en dertig stelle klere gee,
13. maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my dertig linnehemde en dertig stelle klere gee.”Hulle het hom geantwoord: “Gee jou raaisel! Ons wil dit hoor!”
14. Simson sê toe:“Uit 'n eter kom daar iets te ete,uit 'n sterke kom daar iets soets.”Die derde dag kon hulle nog nie die antwoord gee nie.
15. Die sewende dag sê hulle toe vir Simson se vrou: “Haal jou man oor om die antwoord op die raaisel aan ons bekend te maak, anders verbrand ons jou en jou familie. Het jy ons hierheen genooi om ons kaal uit te trek?”
16. Simson se vrou het by hom gehuil en gesê: “Jy haat my. Jy het my nie lief nie. Jy het my mense 'n raaisel gevra sonder om vir my te sê wat dit beteken.”Hy het vir haar gesê: “Hoe sou ek dit vir jou vertel? Ek het dit selfs nie vir my ouers vertel nie.”