Numeri 18:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns, en jou stam saam met jou, word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die heiligdom, maar net jy en jou seuns word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die priesteramp wat deur julle beklee word.

2. Jy moet jou Levitiese ampsgenote uit jou stam na jou toe laat kom dat hulle by jou kan aansluit en jou kan help. Jy en jou seuns moet die ampspligte by die tent met die getuienis verrig.

3. Die Leviete is tot jou beskikking vir al die diens by die tent. Hulle mag egter nie die offergereedskap hanteer om op die altaar te offer nie, want dan sal hulle en julle sterf.

4. Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie.

5. Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie.

6. Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting.

Numeri 18