Nehemia 13:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so 'n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig?

18. Dit is presies wat julle voorvaders gedoen het, sodat ons God al hierdie onheil oor ons en oor hierdie stad gebring het! Nou vererger julle die toorn wat op Israel rus deur die sabbat te ontheilig!”

19. Ek het toe opdrag gegee dat die poorte van Jerusalem gesluit moes word sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat en dat die poorte nie oopgesluit moes word voor ná die sabbat nie. Ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas, sodat daar geen vrag op die sabbat sou inkom nie.

20. Toe het die handelaars en smouse 'n keer of twee net buite Jerusalem geslaap.

21. Ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle straf.” Daarna het hulle nie weer op die sabbat gekom nie.

22. Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!

23. Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens.

24. Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie.

Nehemia 13