12. Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.“Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”
13. Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.
14. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
15. Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.
16. Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
17. Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”
18. “Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra.Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,
19. eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
20. “Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”
21. Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
22. Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.