7. dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam 'n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie.
8. Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle tot nou toe gedoen het.
9. Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Niemand kon tot nou toe voor julle standhou nie.
10. Een van julle jaag 'n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het.
11. Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê.
12. As julle egter 'n ander pad loop en julle verbind aan die mense wat oor is van hierdie nasies wat nog tussen julle woon, en julle ondertrou met hulle en julle kom by hulle, en hulle by julle,
13. weet dan seker dat die Here julle God hierdie nasies nie verder sal verdryf voor julle uit nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.
14. “Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie.
15. Maar net soos elke goeie belofte wat die Here julle God oor julle gemaak het, nagekom is, so sal Hy elke ramp oor julle bring wat Hy aangekondig het, totdat Hy julle uitgeroei het uit hierdie goeie land wat Hy julle gegee het.
16. As julle die verbondsverpligtings wat die Here julle God julle opgelê het, nie hou nie en julle dien ander gode en buig voor hulle, sal die toorn van die Here teen julle ontvlam en sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat Hy julle gegee het.”