7. Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek.
8. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”
9. Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval.
10. Die Here het hulle paniekbevange laat word vir Israel. Israel het 'n groot slagting onder hulle aangerig in Gibeon, hulle agtervolg deur die pas na Bet-Goron toe en hulle bly doodmaak tot by Aseka en tot by Makkeda.
11. Terwyl hulle op die vlug was vir Israel met die afdraand na Bet-Goron toe, het die Here van daar af tot by Aseka groot haelstene uit die lug op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is.
12. Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê:“Son, staan stil in Gibeon,en maan, staan stil in Ajalonlaagte!”
13. Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.
14. So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
15. Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.
16. Die vyf konings het gevlug en in 'n grot in Makkeda gaan wegkruip.
17. Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle weggekruip het,
18. en hy het beveel: “Rol groot klippe in die bek van die grot en sit daar manne om hulle op te pas.
19. Maar julle moenie daar bly staan nie. Agtervolg julle vyande en val hulle van agter af aan. Moenie dat hulle by hulle stede kom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.”
22. Josua het gesê: “Maak oop die grot se bek en bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”
23. Hulle het dit gedoen, hulle het die vyf konings uit die grot uit na Josua toe gebring, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.
24. Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, roep hy al die Israeliete en sê vir die offisiere wat met hom saamgegaan het: “Kom hier, sit julle voete op die konings se nekke.”Hulle het dit toe gedoen,
25. en Josua het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie, wees sterk, wees vasberade. So sal die Here maak met al julle vyande teen wie julle nog moet oorlog maak.”
26. Daarna het Josua die konings doodgemaak. Hy het hulle elkeen aan 'n boom opgehang en hulle het daar bly hang tot die aand toe.
27. Met sononder is hulle op bevel van Josua van die bome af afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Die bek van die grot is met groot klippe toegepak. Dié is tot vandag toe nog daar.