Jesaja 36:14-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie.

15. “En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

16. Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

17. tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde.’

18. Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

19. “Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag?

20. Wie van al die gode van die ander lande kon sy land red uit my mag? Dan sal die Here mos nie Jerusalem kan red uit my mag nie!”

21. Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

22. Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.

Jesaja 36