15. Hieraan sal ek julle toets: So seker as die farao leef, julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer hierheen gebring is nie.
16. Stuur een van julle om hom te gaan haal. Julle ander sal gevange gehou word. So sal ek vasstel of julle die waarheid praat of nie. So seker as die farao leef: Julle is spioene.”
17. Josef het hulle drie dae lank aangehou
18. en op die derde dag sê hy toe vir hulle: “Ek dien God! Op hierdie voorwaarde kan julle bly lewe:
19. as julle eerlike mense is, moet een van julle in die tronk agterbly. Julle ander moet dan graan wegbring vir julle honger huismense.
20. Dan moet julle julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en julle sal nie sterf nie.”Hulle het ingestem
21. en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.”
22. Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.”
23. Omdat Josef deur 'n tolk met hulle gepraat het, het hulle nie besef dat hy verstaan wat hulle sê nie.
24. Josef het van hulle af weggegaan en gaan huil. Daarna het hy teruggekom na hulle toe en weer met hulle gepraat. Toe het hy vir Simeon gevat en hom voor hulle oë in die tronk gesit.
25. Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle.
26. Toe laai hulle die graan op hulle donkies en vertrek van daar af.