Genesis 11:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4. Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5. Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het,

6. en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.

7. Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8. Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad.

9. Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

10. Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming.

11. Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

12. Toe Arpaksad 35 was, het hy die vader geword van Selag.

13. Arpaksad het na die geboorte van Selag nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

14. Toe Selag 30 was, het hy die vader geword van Heber.

15. Selag het na die geboorte van Heber nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

16. Toe Heber 34 was, het hy die vader geword van Peleg.

Genesis 11