Esegiël 47:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water 'n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat 'n mens sou moes swem; dit was 'n stroom waar 'n mens nie deur kon loop nie.

6. Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?”Hy laat my toe al langs die stroom terugstap.

7. Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.

8. Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word.

9. Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe.

10. Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.

11. Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly.

12. Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

13. So sê die Here my God: “Die volgende is die grense van die gebied wat julle as besitting moet toeken aan die twaalf stamme. Aan Josef moet twee dele gegee word,

14. maar aan die ander moet julle een deel elk toeken. Ek het met 'n eed beloof dat Ek die land aan julle voorvaders sal gee, daarom kom dit julle toe as besitting.

Esegiël 47