1. So sê die Here my God: “Die oospoort na die voorhof toe moet op die ses werksdae gesluit bly, maar dit moet oopgemaak word op sabbatdae en op nuwemaansfeeste.
2. Dan moet die regeerder van buite af by die toegangsportaal van die poortgebou ingaan en by die poortdeur gaan staan. Die priesters moet dan die regeerder se brandoffer en maaltydoffer offer, en daarna moet hy in aanbidding by die poortdrumpel buig en uitgaan. Die poort moet tot die aand toe oop bly.
3. Ook die gewone burgers moet op sabbatte en op nuwemaansfeeste by hierdie poort in aanbidding voor die Here kom buig.
4. “Die brandoffer wat die regeerder op die sabbat vir die Here moet aanbied, moet bestaan uit ses lammers en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek.
5. Die graanoffer saam met die ram moet sestien kilogram meel wees en dié saam met die lammers soveel as wat hy wil gee. Daar moet vier liter olie by elke sestien kilogram meel wees.
6. Op die nuwemaansfees moet die offer bestaan uit 'n bul, ses lammers en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek,
7. met graanoffers van sestien kilogram saam met die bul en die ram, en dié saam met die lammers soveel as wat die regeerder kan bekostig. Vir elke sestien kilogram meel moet hy ook vier liter olie offer.
8. “Wanneer die regeerder ingaan, moet hy dit doen deur die toegangsportaal van die poort, en hy moet weer daar uitgaan.
9. Maar wanneer die gewone burgers op feesdae in die teenwoordigheid van die Here wil kom, moet dié wat deur die noordpoort inkom om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan, en dié wat deur die suidpoort inkom, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waar hy ingekom het nie; almal moet by die ander kant uitgaan.
10. Die regeerder moet by hulle wees; wanneer hulle inkom, moet hy inkom en wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.
11. “Op die feesdae en tydens die feestye moet die graanoffer sestien kilogram saam met 'n bul en 'n ram wees en dié saam met die lammers soveel as wat die persoon wil gee. Vir elke sestien kilogram moet daar ook vier liter olie gebring word.