Esegiël 20:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring.

10. “Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek.

11. Ek het aan hulle my voorskrifte gegee en my bepalings aan hulle bekend gemaak, sodat elkeen wat daarvolgens optree, in die lewe sou bly.

12. Ek het ook my sabbatte aan hulle gegee om vir hulle 'n teken te wees van die verhouding tussen hulle en My, en sodat hulle sou weet dat Ek, die Here, hulle geheilig het.

13. Maar Israel het hulle teen My verset in die woestyn. Hulle het nie volgens my voorskrifte gelewe nie en het my bepalings verwerp waarvolgens elkeen moes optree om in die lewe te bly. Hulle het my sabbatte gruwelik ontheilig. Ek het gedink Ek sal my toorn daar in die woestyn teen hulle laat losbreek om hulle uit te roei,

14. maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie.

15. Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek aan hulle gegee het nie, die land wat oorloop van melk en heuning, die sieraad onder al die lande.

16. Hulle het immers my bepalings verwerp, nie volgens my voorskrifte gelewe nie, my sabbatte ontheilig en die afgode van hulle keuse gedien.

17. Maar Ek het hulle jammer gekry en hulle nie uitgeroei nie, Ek het nie 'n end aan hulle gemaak in die woestyn nie.

18. “Ek het in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Moenie volgens die gebruike van julle voorvaders leef nie, moenie aan hulle maniere vashou nie, moet julle nie verontreinig met hulle afgode nie.

19. Ek, die Here, is julle God. Leef volgens my voorskrifte, kom my bepalings na en leef daarvolgens,

20. hou my sabbatte heilig sodat hulle die teken kan wees van die verhouding tussen My en julle, sodat julle kan weet dat Ek, die Here, julle God is.’

Esegiël 20