Esegiël 20:31-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. As julle vir die afgode geskenke aandra en julle kinders as offers verbrand, as julle julle nog steeds verontreinig met julle afgode, moet Ek My deur julle laat raadpleeg, Israel? So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie.

32. Wat in julle gedagtes opgekom het, sal nie gebeur nie. Julle dink: ons wil soos die ander nasies wees, soos die mense in ander lande, ons wil hout en klip dien.

33. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal oor julle regeer met mag en krag en Ek sal my toorn oor julle laat losbreek.

34. Ek sal julle met mag en krag tussen die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het en my toorn oor julle laat losbreek.

35. Ek sal julle bring na die woestyn tussen Babel en Israel en daar my saak teen julle van aangesig tot aangesig stel.

36. Soos Ek my saak teen julle voorvaders in die woestyn van Egipte gestel het, so sal Ek dit met julle doen,” sê die Here my God.

37. “Ek sal vasstel dat julle almal daar is en julle oordeel op grond van die eise van die verbond.

38. Ek sal dié van julle wat hulle teen My verset en opstandig is, uitsoek en hulle laat trek uit die land waar hulle woon, maar in die land Israel sal hulle nie kom nie. Hulle sal besef dat Ek die Here is.

39. “En wat julle betref, Israel,” sê die Here my God, “loop na julle gode toe, dien hulle, nou en later, as julle nie na My wil luister nie en my heilige Naam nog wil oneer aandoen met julle geskenke aan afgode en met julle afgode self.

40. “Op my heilige berg, op die hoë berg van Israel,” sê die Here my God, “daar, in dié land, sal die hele Israel My dien. Daar sal Ek weer goedgesind wees teenoor hulle en daar sal Ek bereid wees om hulle offergawes, hulle eerstelingoffers en al hulle geskenke aan die heiligdom te ontvang.

41. Die reuk van julle offers sal vir My aanneemlik wees. Wanneer Ek julle onder die volke uit laat trek en julle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek julle verstrooi het, sal Ek My deur julle voor die oë van die nasies laat ken as die Heilige.

Esegiël 20