Esegiël 18:13-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. geld op rente uitleen of woekerwins vat, kan hy nie bly lewe nie. Hy sal nie bly lewe nie, hy het al hierdie afskuwelike dinge gedoen en hy moet dood. Hy verdien die dood.

14. “Maar so 'n seun kan op sy beurt 'n seun hê, en dié kan al die sonde sien wat sy pa doen en My dien en nie sulke sondes doen nie.

15. Hy neem nie deel aan die offermaaltye op die berge nie, soek nie hulp by die afgode van die volk Israel nie, onteer nie 'n ander se vrou nie,

16. verdruk niemand nie, vat niks in pand nie, beroof niemand nie, gee van sy kos vir dié wat honger is, gee klere vir dié wat nie het nie,

17. weerhou hom van verdrukking, vat nie rente of woekerwins nie, doen wat Ek bepaal en lewe volgens my voorskrifte. So iemand sal nie sterf vir sy pa se sondes nie, hy sal bly lewe.

18. Maar sy pa sal sterf vir sy eie sonde. Hy het mense verdruk en beroof en het verkeerde dinge gedoen tussen sy mense.

19. “Julle vra waarom die seun nie die straf op sy pa se sonde kan dra nie? Omdat die seun reg laat geskied en reg leef. Hy is gehoorsaam aan al my voorskrifte en hy voer hulle uit, en daarom sal hy bly lewe.

20. Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.

21. “Maar die goddelose wat hom van al sy sondes bekeer, al my voorskrifte nakom, reg laat geskied en reg doen, sal bly lewe, hy sal nie sterwe nie.

22. Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie. Hy sal bly lewe op grond van die reg wat hy doen.

23. Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.

24. “En as iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en die afskuwelike dinge doen wat die goddelose doen, sal hy nie bly lewe nie. Nie een van die goeie dinge wat hy gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het.

25. “Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Luister, Israel, tree Ék nie reg op nie? Dit is julle wat nie reg optree nie!

26. As iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en op grond daarvan sterf, sterf hy op grond van die onreg wat hy gepleeg het.

27. En as 'n goddelose hom bekeer van sy goddelose optrede en hy laat reg geskied en doen reg, hou hy hom in die lewe.

28. Omdat hy tot insig gekom het en hom bekeer het van al sy oortredings wat hy begaan het, sal hy bly lewe, hy sal nie sterwe nie.

29. En dan sê Israel: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Is dit Ek wat nie reg optree nie, Israel? Dit is julle wat nie reg optree nie!

30. “Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede,” sê die Here my God. “Bekeer julle, bekeer julle van al julle oortredings, sodat die sonde nie julle val bewerk nie.

Esegiël 18