Eksodus 39:2-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die skouerkleed is gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

3. Hulle het bladgoud gemaak en dit in drade opgesny en ingeborduur in die blou, die pers en die bloedrooi wolstof en in die goed geweefde linne. Dit was die werk van 'n vakman.

4. Hulle het vir die skouerkleed twee bande gemaak om dit aan die punte oor die skouer aanmekaar vas te maak.

5. Die gordel wat oor die skouerkleed gekom het, was van dieselfde gehalte en daarvoor het hulle ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik, soos die Here vir Moses beveel het.

6. Hulle het oniks verwerk en gemonteer in goud. Die name van die seuns van Israel is daarop gegraveer, soos 'n vakman dit op 'n seëlring doen.

7. Die stene is op die skouerbande van die skouerkleed vasgewerk sodat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. Dit alles is gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

8. Hulle het ook 'n borssak uitgeborduur soos die skouerkleed, die werk van 'n vakman, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

9. Die borssak is dubbel gevou, vyf en twintig sentimeter in die vierkant.

10. Hierop het hulle vier rye edelstene gemonteer. Die eerste ry het bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag;

11. die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis;

12. die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis,

13. en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering was van goud.

14. Daar was twaalf stene, een vir elke naam van die twaalf stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme is daarop gegraveer soos op 'n seëlring.

15. Hulle het toe van suiwer goud vir die borssak kettinkies gemaak, gedraai soos tou.

Eksodus 39