Eksodus 39:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Van die blou, pers en bloedrooi wolstof het Besaleël en sy helpers die geborduurde klere gemaak wat in die diens van die heiligdom gebruik is. Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy.

2. Die skouerkleed is gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

3. Hulle het bladgoud gemaak en dit in drade opgesny en ingeborduur in die blou, die pers en die bloedrooi wolstof en in die goed geweefde linne. Dit was die werk van 'n vakman.

4. Hulle het vir die skouerkleed twee bande gemaak om dit aan die punte oor die skouer aanmekaar vas te maak.

5. Die gordel wat oor die skouerkleed gekom het, was van dieselfde gehalte en daarvoor het hulle ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik, soos die Here vir Moses beveel het.

6. Hulle het oniks verwerk en gemonteer in goud. Die name van die seuns van Israel is daarop gegraveer, soos 'n vakman dit op 'n seëlring doen.

7. Die stene is op die skouerbande van die skouerkleed vasgewerk sodat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. Dit alles is gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

8. Hulle het ook 'n borssak uitgeborduur soos die skouerkleed, die werk van 'n vakman, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

9. Die borssak is dubbel gevou, vyf en twintig sentimeter in die vierkant.

10. Hierop het hulle vier rye edelstene gemonteer. Die eerste ry het bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag;

11. die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis;

12. die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis,

13. en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering was van goud.

Eksodus 39