Eksodus 34:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. “Wat Ek julle nou hier gaan beveel, moet julle gehoorsaam. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit verdryf.

12. Moenie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen julle gaan nie. Hulle sal julle tot 'n val bring.

13. “Nee, vernietig hulle altare, breek hulle klippilare af en kap hulle gewyde pale stukkend.

14. Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’

15. “Julle mag nie 'n verdrag met die inwoners van die land sluit nie. Wanneer hulle onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode en vir hulle gode offers bring, sal die mense julle uitnooi na hulle offermaaltye toe, en julle sal daaraan deel hê.

16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.

17. “Julle mag nie afgodsbeelde maak nie.

18. “Julle moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek julle beveel het, moet julle sewe dae ongesuurde brood eet, van die vasgestelde dag van die maand Abib af, want dit is die dag waarop julle uit Egipte weggetrek het.

19. “Elke eersgebore seun behoort aan My; so ook al die manlike eerstelinge van julle beeste en skape.

20. Julle moet elke donkie se eerste hingsvulletjie loskoop met 'n skaap. As julle dit nie doen nie, moet julle die vul se nek breek. Alle eersgebore seuns moet ook losgekoop word.“Niemand mag sonder 'n offer voor My verskyn nie.

21. “Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus.

22. “Jy moet die fees van die weke vier; dit is die fees aan die begin van die koringoes.“Dan is daar nog die fees van die insameling aan die einde van die jaar.

23. “Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn, voor My, die Here die God van Israel.

24. “Ek sal nasies voor jou uit verdryf en vir jou 'n land gee. Drie keer per jaar moet jy voor My, die Here jou God, verskyn. Dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie.

Eksodus 34