1. Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”
2. Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”
3. Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring.
4. Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak.Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”
5. Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”
6. Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan.
7. Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen.
8. Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”
9. Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie.
10. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”
11. Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het?
12. Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.
13. Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”
14. Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.
15. Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf,
16. en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.
17. Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”