17. Sny die ram op in stukke, was sy binnegoed en pootjies en sit dit neer by die stukke vleis en die kop.
18. Verbrand dan die hele ram op die altaar. Dit is 'n brandoffer vir My, die Here, 'n vuuroffer wat Ek met graagte aanvaar.
19. “Vat die ander ram en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit.
20. Slag die ram en vat van sy bloed en smeer dit aan die regteroorlelle van Aäron en sy seuns, ook aan hulle regterduime en regtergroottone. Sprinkel dan die bloed oral op die altaar.
21. Vat van die bloed op die altaar en van die salfolie en sprinkel dit op Aäron en sy klere, en op sy seuns en hulle klere. Dan sal hy en sy klere, en sy seuns en hulle klere gewy wees.
22. Vat die ram waarmee Aäron en sy seuns gewy word, se vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die punt van die lewer, die twee niertjies, die niervet en die regterboud,
23. asook 'n ringbrood, 'n oliekoek en 'n roosterkoek uit die mandjie wat jy na die heiligdom toe gebring het,
24. en sit dit alles op Aäron en sy seuns se hande dat hulle dit heen en weer beweeg as 'n beweegoffer vir My, die Here.