1. “Jy mag nie skinderstories versprei nie. Jy mag nie met 'n misdadiger saamwerk en in sy guns vals getuienis lewer nie.
2. Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie. Wat jy in 'n hofsaak getuig, mag jy nie verdraai nie, al doen die meerderheid dit ook.
3. Wanneer jy regspreek, mag jy 'n arm man nie in sy hofsaak voortrek nie.
4. “Wanneer jy 'n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakloop, moet jy dit beslis na hom toe terugbring.
5. “Wanneer jy iemand wat jou haat, se donkie sien lê onder sy vrag, moet jy hom nie sonder hulp los nie; gaan help hom met sy vrag.
6. “Wanneer jy regspreek, mag jy 'n arme nie in 'n hofsaak veronreg nie
7. en moet jy wegbly van leuens sodat jy nie onskuldiges en regverdiges doodmaak nie. Ek, die Here, vind nie 'n skuldige onskuldig nie.
8. Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat sien, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.
9. “Jy mag 'n vreemdeling nie laat verdruk nie. Julle ken die lewe van 'n vreemdeling, want julle was vreemdelinge in Egipte.”
10. “Ses jaar mag jy jou lande saai en die oes insamel,
11. maar die sewende jaar moet jy dit laat braak lê. Die armes onder jou mense mag van die opslag eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere vreet. So moet jy ook met jou wingerd en olyfbome maak.
12. “In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou 'n bietjie kan asem skep.
13. “Sorg dat julle alles doen wat Ek julle beveel het. Julle mag die naam van ander gode nie in julle gebede noem nie. Jy mag nie eers van hulle praat nie.”
14. “Drie maal per jaar moet jy tot my eer 'n fees hou.
15. “Jy moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek jou al vroeër beveel het, moet jy sewe dae ongesuurde brood eet, van dié dag in die maand Abib af waarop jy uit Egipte weggetrek het. Die volk mag nie sonder offers voor My verskyn nie.
16. “Die fees van die oes moet gevier word met die eerste opbrengs van wat jy op die land saai.“Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.
17. “Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here God, verskyn.
18. “Jy mag nie die bloed van die offerdier offer saam met iets wat suurdeeg in het nie. Die vet van die feesoffer wat jy vir My bring, mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.
19. “Die beste uit die eerste opbrengs van jou lande moet jy bring na die huis van die Here jou God toe.“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”