Eksodus 22:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer 'n man 'n bees of 'n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste terugbetaal vir die bees en vier stuks kleinvee vir die skaap.

5. “Wanneer 'n man sy vee laat wei en hulle nie oppas waar hulle wei nie, en hulle loop wei in die land of wingerd van 'n ander, moet hy met die opbrengs van sy beste land of wingerd daarvoor vergoed.

6. “Wanneer 'n man onkruid aan die brand steek, en die vuur vang die rye gerwe of die ongesnyde graan of die land van 'n ander, moet die man wat met die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed.”

7. “As 'n man aan iemand anders geld of goedere gee om te bewaar, en dit word uit sy huis gesteel, moet die dief dit dubbel betaal as hy gevang word.

8. Maar as die dief nie gevang word nie, moet die huiseienaar in die teenwoordigheid van God 'n eed gaan aflê dat hy nie die ander man se goed gesteel het nie.

9. In die geval van 'n geskil oor 'n bees of 'n donkie of 'n skaap of klere of enigiets wat weggeraak het, moet dié wat die goed eis, hulle saak voor God gaan stel. Die een wat deur God as die skuldige aangewys word, moet dubbel betaal aan die ander.

10. “Wanneer 'n man 'n donkie of 'n bees of 'n skaap of enige ander dier aan iemand anders gee om op te pas, en dit vrek of word verskeur of buitgemaak sonder dat daar 'n ooggetuie by is,

11. moet hy in wie se sorg dit gegee is, in die teenwoordigheid van die Here 'n eed teenoor die eienaar aflê dat hy wat dit moes oppas, dit nie gesteel het nie. Die eienaar moet sy woord aanvaar, en in so 'n geval hoef niks betaal te word nie.

12. As die dier egter gesteel is terwyl dit in die ander man se sorg was, moet die eienaar daarvoor vergoed word.

13. As dit deur wilde diere verskeur is, moet die eienaar by die verskeurde dier gebring word, en dan hoef niks betaal te word nie.

14. “Wanneer 'n man 'n dier van 'n ander leen, en dit word verskeur of gaan dood terwyl die eienaar nie by is nie, moet die eienaar ten volle daarvoor vergoed word.

15. As die eienaar by is, is daar nie 'n eis nie. As die dier gehuur was, moet die huur betaal word.”

16. “Wanneer 'n man 'n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou.

17. As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy nogtans die volle bruidsprys vir jongmeisies betaal, en dit met silwer.

18. “Jy mag nie 'n towenares laat lewe nie.

Eksodus 22