8. “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
9. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,
10. maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.
11. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
12. “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13. “Jy mag nie moord pleeg nie.
14. “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15. “Jy mag nie steel nie.
16. “Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.
17. “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
18. Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op 'n afstand bly staan.
19. Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”
20. Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”
21. Die volk het op 'n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.
22. Toe sê die Here vir Moses: “So moet jy vir die Israeliete sê: Julle het nou self ervaar dat Ek uit die hemel met julle kom praat het.
23. Julle mag nie gode uit silwer maak om my plek in te neem nie. Julle mag ook nie vir julle gode uit goud maak nie.