Eksodus 16:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11. Die Here sê toe vir Moses:

12. “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13. Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp,

14. en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp.

15. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17. Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie,

18. en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19. Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

Eksodus 16