Eksodus 12:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!

13. Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14. “Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

15. Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word.

16. Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

17. “Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier.

18. In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand.

19. Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete.

20. Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.”

21. Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam!

22. Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie.

Eksodus 12