Eksodus 12:12-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!

13. Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14. “Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

15. Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word.

16. Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

Eksodus 12