Die Openbaring 12:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe het daar 'n groot teken in die hemel verskyn: daar was 'n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre.

2. Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar.

3. Daar het ook 'n ander teken in die hemel verskyn: daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone.

4. Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om 'n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring.

5. Sy het 'n kind in die wêreld gebring, 'n seun, bestem om al die nasies met 'n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe,

6. en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar 'n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.

7. Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer,

8. maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie,

9. want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

Die Openbaring 12