5. “Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde.
6. Jy is 'n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.
7. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.
8. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met 'n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.
9. “Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam,
10. maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie.
11. Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.
12. “As jy goed luister na hierdie bepalings en hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal die Here jou God sy verbond nakom en sy troue liefde aan jou betoon soos Hy aan jou voorvaders met 'n eed beloof het.
13. Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou 'n groot volk maak. Hy sal jou nageslag voorspoedig maak en Hy sal jou grond 'n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee vinnig laat aanteel. Dit alles sal Hy doen in die land wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om vir jou te gee.
14. Dit sal met jou beter gaan as met al die volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie.
15. Die Here sal elke soort siekte van jou af weghou. Nie een van Egipte se dodelike siektes wat jy maar alte goed ken, sal Hy jou laat tref nie. Hy sal dit jou vyande laat tref.