17. en die wesgrens was die Jordaanvallei en die Jordaanrivier van Gennesaret af tot by die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, onderkant die Pisgahange net oos van die see.
18. “Ek het destyds vir die drie stamme gesê: Die Here julle God het hierdie land vir julle gegee as julle besitting. Maar julle gewapende manne, elke weerbare man, moet die Jordaan oorsteek voor julle volksgenote uit.
19. Net julle vrouens en kinders en vee, en ek weet julle het baie vee, mag agterbly in die stede wat ek vir julle gegee het.
20. Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, 'n veilige woonplek gegee het, en ook húlle die land wat die Here julle God vir hulle sal gee, die land wes van die Jordaan, in besit geneem het.”
21. “Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jou twee oë het nou alles gesien wat die Here julle God met daardie twee konings gedoen het. So sal die Here doen met al die koninkryke waarnatoe jy nou gaan deurtrek.
22. Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal vir julle veg.’
23. “Dit was toe dat ek die Here gesmeek het:
24. ‘Here my God, U het begin om my u grootheid en u groot mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen?
25. Laat my tog nou deur die Jordaan gaan om hierdie mooi land te gaan bekyk, die mooi Bergwêreld en die Libanon.’
26. Maar deur julle toedoen het die Here destyds vir my kwaad geword en daarom het Hy nie nou my gebed verhoor nie. Hy het vir my gesê: ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie.
27. Klim eerder Pisgaberg uit en kyk na die weste en die noorde, die suide en die ooste. Kyk daarna, want jy sal nie hierdie Jordaan oorsteek nie.
28. Gee vir Josua sy opdragte, praat hom moed in en gee hom raad, want hy moet voor hierdie volk uit deur die Jordaan trek en hy moet hulle die land wat jy sal sien, in besit laat neem.’
29. Daarom het ons in die laagte teenoor Bet-Peor gebly.”