32. Jou seuns en dogters sal aan 'n vreemde volk gegee word terwyl jy toekyk, en jou oë sal ingee soos jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal niks daaraan kan doen nie.
33. 'n Volk wat jy nie ken nie, sal die opbrengs eet van jou lande en alles waarvoor jy jou afsloof. Daar sal deurentyd net verdrukking en swaarkry vir jou wees,
34. en jy sal kranksinnig word van wat jy sien.
35. Die Here sal jou tref met kwaadaardige swere aan jou knieë en jou dye. Van kop tot tone sal jy nie genees kan word nie.
36. “Die Here sal jou en die koning wat jy vir jou sal aanstel, na 'n nasie toe laat gaan wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien: hout en klip.
37. Daar sal jy wees tot 'n spot en 'n skimp onder al die volke na wie toe die Here jou sal bring, iets waarvoor hulle sal skrik.
38. Jy sal baie saad saai, maar min oes, want sprinkane sal die oes opvreet.
39. Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie wyn daarvan drink of druiwe daarvan oes nie, want wurms sal dit opvreet.
40. Oral in jou grondgebied sal jy olyfbome hê, maar jy sal jou liggaam nie met hulle olie versorg nie, want die olywe sal afval.
41. Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word.
42. Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem.
43. Die vreemdeling wat by jou woon, sal meer en meer kry, en jy sal agteruitboer en minder en minder hê.