Deuteronomium 28:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. “Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld.

17. “Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel.

18. “Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes.

19. “Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan.

20. “Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.

21. “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.

22. “Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte, met hitte, met oorlog en met brandkoring en roes. Dit sal by jou bly totdat jy uitgewis is.

23. “Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster.

24. “Die Here sal stof en roet in jou land laat reën. Dit sal uit die hemel uit op jou afkom en jou uitdelg.

25. “Die Here sal jou laat vlug vir jou vyande. Uit een rigting sal jy teen hulle opruk, maar in talle rigtings sal jy voor hulle uit vlug. Jy sal bewe vir al die koninkryke van die aarde.

26. “Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie.

27. Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan jy nie genees sal kan word nie.

28. Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin.

29. Jy sal op die helder middag rondtas soos 'n blinde rondtas in sy donkerte. Jy sal nie voorspoed ondervind nie. Jy sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om jou te help nie.

30. Jy sal aan 'n vrou verloof raak, maar 'n ander man sal haar verkrag; jy sal 'n huis bou, maar nie daarin woon nie; jy sal 'n wingerd plant, maar nie sy vrugte eet nie.

Deuteronomium 28