10. As daar iemand by jou is wat nie rein is nie op grond van iets wat in die nag met hom gebeur het, moet hy uit die kamp uit gaan. Hy mag nie in die kamp wees nie.
11. Teen die aand moet hy hom was en na sononder mag hy in die kamp inkom.
12. Jy moet 'n plek buite jou kamp hê waarheen jy kan uitgaan.
13. By jou uitrusting moet daar 'n stok wees en as jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy 'n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap.
14. Die Here jou God gaan saam met jou in jou kamp om jou te bevry deur jou vyande in jou mag oor te gee, en daarom moet jou kamp rein wees. As die Here iets onbetaamliks by jou sien, sal Hy jou verlaat.”
15. “Jy mag nie 'n slaaf wat van sy eienaar af na jou toe weggeloop het, aan sy eienaar teruggee nie.
16. Die slaaf mag by jou woon in een van jou stede wat hy kies, waar dit hom pas. Jy mag hom nie laat swaarkry nie.
17. “Jy mag nie prostitute by die tempel aanhou nie, of dit nou vrouens of mans uit Israel is.
18. “Wanneer jy 'n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van 'n prostituut, of dit nou dié van 'n man of 'n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het 'n afkeer van hierdie twee dinge.
19. “Jy mag niks teen rente aan jou volksgenoot uitleen nie: nie geld of kos of enigiets wat 'n mens kan uitleen nie.
20. Jy mag aan 'n nie-Israeliet iets teen rente uitleen, maar aan jou volksgenoot mag jy niks teen rente uitleen nie. Dan sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.
21. “Wanneer jy 'n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees.
22. Wanneer jy nie 'n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie,