5. Die Here jou God het die Levistam uit al jou stamme uitgekies om in sy diens te staan. Levi en sy nageslag moet vir altyd aan die Naam van die Here diens lewer.
6. Wanneer 'n Leviet uit enige van die Israelitiese stede waar hy as vreemdeling woon, na die plek toe wil kom wat die Here sal kies,
7. mag die Leviet aan die Naam van die Here sy God diens lewer soos al sy mede-Leviete wat daar in die teenwoordigheid van die Here diens doen.
8. So 'n Leviet moet net soveel kos as die ander Leviete kry, ongeag wat hy as erfgoed besit.”
9. “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.
10. Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar
11. of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.
12. Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.
13. Jy moet opreg wees voor die Here jou God.
14. Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.”
15. “Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.
16. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer 'n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’
17. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg.