18. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
19. Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik.
20. Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi.
21. Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi.
22. Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is.
23. Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.
24. Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!”