Daniël 2:30-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u 'n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het.

31. “U het 'n visioen gehad. Daar was 'n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends.

32. Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons.

33. Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei.

34. Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit.

35. Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek.

36. Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê.

37. “U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee.

38. Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud.

39. Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer.

40. Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis.

Daniël 2