6. Na verloop van tyd sal hulle met mekaar 'n bondgenootskap aangaan, en die dogter van die koning van die suide sal aan die koning van die noorde as vrou gegee word om die bondgenootskap te bekragtig. Sy sal egter nie haar invloed daar behou nie, en haar pa sal geen gesag daar hê nie. Sy en dié wat haar gebring het, en ook haar pa en haar man, sal in dié tyd ondergaan.
7. In haar pa se plek sal een van haar familielede koning word, teen die leër van die koning van die noorde optrek, sy vesting binnedring en as oorwinnaar met die inwoners doen wat hy wil.
8. Hy sal ook hulle gode en hulle beelde met hulle skatte van silwer en goud na Egipte toe wegvoer. Dan sal hy die koning van die noorde 'n aantal jare met rus laat.
9. Dié sal sy gebied binneval, maar sal die aftog moet blaas terug na sy land toe.
10. “Sy seuns sal hulle vir oorlog klaarmaak en groot leërs bymekaarmaak. Een van hulle sal al verder en verder opruk soos 'n vloedgolf wat alles oorspoel, en hy sal uiteindelik die vesting van die koning van die suide aanval.
11. Dié sal woedend teen hom, die koning van die noorde, optrek en die groot leër wat hy byeengebring het, verslaan.
12. Wanneer die leër gevange geneem is, sal die koning van die suide selfvoldaan raak. Hy sal tienduisende verslaan, maar tog nie die oorwinnaar bly nie.
13. Die koning van die noorde sal terugkom nadat hy 'n groter leër op die been gebring het as die vorige, en na verloop van 'n aantal jare sal hy sy verskyning maak met 'n groot en goed toegeruste leër.
14. In daardie tyd sal baie teen die koning van die suide in opstand kom, en ook uit jou volk sal mense wat geweld voorstaan, in opstand kom met die gedagte dat 'n visioen so in vervulling gaan, maar hulle sal verslaan word.
15. “Dan sal die koning van die noorde 'n vestingstad beleër en dit inneem, en die magte van die suide sal nie kan standhou nie. Selfs die keurtroepe sal nie sterk genoeg wees om hom teë te hou nie.