Daniël 11:17-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Hy sal besluit om die volle krag van sy koninkryk teen die koning van die suide in die stryd te werp en sal, om dié se koninkryk te vernietig, met hom 'n bondgenootskap sluit en dit bekragtig deur aan hom 'n besonderse meisie as vrou te gee. Die plan sal egter nie geluk nie, daar sal niks van kom nie.

18. Dan sal die koning van die noorde hom toelê op die kusgebiede en baie verower, maar daar sal aan sy vermetele optrede 'n einde gemaak word deur 'n ander leier vir wie hy nie in gelyke munt sal kan terugbetaal nie.

19. Hy sal koers kies na die vestings toe in sy eie land, maar hy sal verslaan word en tot 'n val kom, en dan is dit klaar met hom.

20. Hy sal opgevolg word deur iemand wat 'n belastinggaarder sal aanstel om die rykdom van die koninkryk te vergroot. Dié koning sal binne enkele jare om die lewe gebring word, maar nie in die openbaar of in 'n geveg nie.

21. “Hy sal opgevolg word deur 'n veragtelike persoon wat geen koninklike status besit nie, maar wat sy weg sal baan terwyl die mense niks vermoed nie en wat die mag sal kry deur slinksheid.

22. Hy sal die leërs van die instromende mag voor hom wegvee en uitwis, ook die leier van die verbondsvolk.

23. Die veragtelike persoon sal troubreuk pleeg teen die bondgenootskappe wat met hom aangegaan word en hy sal groot en sterk word, al is sy nasie klein.

24. Hy sal ryk gebiede van 'n provinsie onverwags binnegaan en doen wat sy voorgangers nie kon regkry nie: hy sal wat hy buit en roof en in besit kry, uitdeel. Hy sal vestingstede met slim planne in die hande kry, maar dit sal van korte duur wees.

25. “Hy sal al sy krag inspan teen die koning van die suide en hom aandurf met 'n groot leër. Die koning van die suide sal hom met 'n groot en sterk leër gereed maak vir die geveg, maar hy sal nie standhou nie omdat daar sameswerings teen hom sal wees.

26. Mense aan sy eie hof sal hom breek. Sy leër sal oorweldig word, en baie van sy soldate sal sneuwel.

Daniël 11