2 Samuel 6:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings.

2. Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon” uitgeroep is.

3. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa

4. waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop.

5. Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6. Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel.

7. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.

8. Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.

9. Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”

2 Samuel 6