5. Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie.
6. Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.”Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.”
7. Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan seun van Saul, gespaar vanweë die verbond wat in die Naam van die Here tussen Dawid en Saul se seun Jonatan bestaan het.
8. Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet.
9. Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes.
10. Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie.