4. Daar het die burgers van Juda vir Dawid tot hulle koning kom salf.Toe daar aan Dawid vertel is dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het,
5. het hy boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Mag die Here julle seën omdat julle hierdie liefdesdaad aan julle koning Saul bewys het deur hom te begrawe.
6. Mag die Here ook aan julle liefde en trou betoon. Ek self sal ook nog 'n weldaad aan julle bewys omdat julle dit gedoen het.
7. Tree nou net moedig op en wees dapper, want julle koning Saul is wel dood, maar Juda het mý tot hulle koning gesalf.”
8. Maar die hoof van Saul se leër, Abner seun van Ner, het vir Is-Boset seun van Saul gevat, hom laat deurtrek na Maganajim toe
9. en hom koning gemaak oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin, ja, oor die hele Israel.
10. Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar geregeer. Net die Judastam het vir Dawid ondersteun.
11. Dawid was sewe en 'n half jaar in Hebron koning oor Juda.
12. Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk.
13. Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant.
14. Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!”“Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord.
15. Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate.
16. Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem.