2 Samuel 15:24-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was.

25. Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien.

26. Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”

27. Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan.

28. En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”

29. Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.

30. Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.

31. Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.”

32. Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.

2 Samuel 15