1. Josia het die paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die eerste maand.
2. Die koning het aan die priesters hulle diensbeurte toegewys en hulle moed ingepraat vir die tempeldiens.
3. Daarna het hy die Leviete wat vir die onderrig van die hele Israel verantwoordelik was en aan die Here gewy was, beveel: “Sit die heilige ark in die tempel wat koning Salomo van Israel, seun van Dawid, gebou het. Julle hoef dit nie meer op die skouers te dra nie. Doen nou julle werk vir die Here julle God en vir sy volk Israel.
4. Orden julleself familiegewys volgens afdelings soos dit bepaal is in die handleidings van koning Dawid van Israel en sy seun Salomo.
5. Neem dan julle plek in die heiligdom in: vir elke familiegroep van julle volksgenote moet daar 'n familieafdeling Leviete wees.
6. Slag die paaslam, reinig julle, en berei julle volksgenote voor om uitvoering te gee aan die opdrag van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.”
7. Josia het self die kleinvee, die skaaplammers en boklammers, dertig duisend stuks, vir die lede van die volk voorsien, die paasoffers vir almal wat daar was, en ook nog drie duisend beeste. Dit het gekom uit die persoonlike besit van die koning.
8. Sy amptenare het vrywillig voorsiening help maak vir die volk, die priesters en die Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het as paasoffers vir die priesters twee duisend ses honderd lammers en drie honderd beeste geskenk.
9. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het as paasoffers vir die Leviete vyf duisend lammers en vyf honderd beeste geskenk.