2 Kronieke 34:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Josia was ag toe hy koning geword het en het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer.

2. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.

3. In die agste jaar van sy regering, toe hy nog 'n jong man was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te suiwer van hoogtes, gewyde pale, gesnede en gegote beelde.

4. Hy het persoonlik toegesien dat die altare van die Baäls verwoes word en het die wierookaltare wat bokant die Baälsaltare gestaan het, laat stukkend slaan. Die gewyde pale en die gesnede en gegote beelde het hy stukkend gebreek, fyngemaal en oor die grafte van dié wat vir hulle offerandes gebring het, gestrooi.

5. Die bene van die afgodspriesters het hy op hulle eie altare laat verbrand. So het hy Juda en Jerusalem skoongemaak,

6. en ook die stede van Manasse, Efraim en Simeon, tot by Naftali, en ook die ruïnes van die omgewing.

7. Hy het dwarsoor die gebied van Israel altare afgebreek, gewyde pale en beelde in stukkies gekap en al die wierookaltare stukkend gebreek. Daarna is hy terug Jerusalem toe.

8. In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel.

26-27. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy berou getoon het voor God toe jy hoor wat Hy sê oor hierdie plek en sy inwoners, en dat jy jou klere geskeur het en gehuil het en voor My berou getoon het, sê die Here.

2 Kronieke 34