2 Konings 20:14-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.”

15. “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

16. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here:

17. Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

18. Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

19. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

20. Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

21. Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 Konings 20