2 Konings 14:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.

17. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.

18. Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

19. Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak.

20. Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad.

21. Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud

22. en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

23. In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer

24. en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

2 Konings 14