2 Konings 11:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die bevelhebbers oor honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe gevat, dié wat op die sabbat diens moes doen, sowel as dié wat klaar was met hulle diens, en na die priester Jojada toe gekom.

10. Daarna het die priester die spiese en die skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel was, aan die bevelvoerders uitgedeel.

11. Die hardlopers het elkeen met sy wapen in die hand om die koning gaan staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

12. Toe het Jojada die jong koning vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. So het hulle hom koning gemaak. Hulle het hom gesalf, hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”

13. Atalia het die uitroepe van die hardlopers en die volk gehoor en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar die volk bymekaar was.

2 Konings 11