1 Kronieke 17:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Terwyl Dawid op 'n keer in sy huis sit, sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die verbondsark van die Here staan in 'n tent.”

2. Natan het Dawid geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. God is by u.”

3. Dieselfde nag het egter iets gebeur: die woord van God het tot Natan gekom en vir hom gesê:

4. “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie.

5. Van die dag af dat Ek Israel hierheen laat trek het tot vandag toe het Ek nie in 'n huis gewoon nie. Ek het van tent na tent en van woonplek na woonplek gegaan.

6. Het Ek ooit terwyl Ek saam met die Israeliete rondgeswerf het, vir een van die leiers wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’

7. “Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers.

8. Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde.

9. Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen

10. toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal al jou vyande onderwerp. Ek maak aan jou bekend dat die Here vir jou 'n koningshuis sal vestig.

11. Wanneer jou tyd daar is om by jou voorvaders te rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee.

12. Hy sal vir My 'n huis bou en Ek sal sy troon blywend vestig.

13. Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. My trou sal Ek nie aan hom onttrek nie, soos Ek dit aan jou voorganger onttrek het.

14. Ek gee hom 'n blywende plek in my huis en my koninkryk. Sy troon sal altyd voortbestaan.”

15. Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.

16. Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het?

17. Selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, o God: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak, U sien my as die man wat soos 'n duif die hoogtes bereik, Here God!

18. “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê oor die eer wat u dienaar aangedoen word? U ken immers u dienaar.

19. U het hierdie groot ding gedoen, Here, ter wille van u dienaar omdat dit u besluit en wil was, en boonop het U al dié groot dinge aan u dienaar bekend gemaak.

20. Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.

1 Kronieke 17