22. So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie.
23. As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie?
24. Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom 'n ongelowige of 'n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek.
25. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!”
26. Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.
27. Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê.
28. As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat.
29. Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom, en die ander moet beoordeel wat hulle sê.
30. Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly.
31. Julle kan almal profeteer, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word.