1 Korintiërs 14:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer.

2. Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge.

3. Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos.

4. Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op.

5. Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.

6. En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel.

7. Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word?

8. En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak?

9. So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind!

1 Korintiërs 14